Daantjie

Mense, sometimes there is no news from Groenvlei and I don’t have anything to say. This can be a problem especially if there is a Blog on a website. The moment I realized I was running out of material for the Blog flashing images of the TV show Who wants to be a Millionaire played over and over in my head. This was a sign… ask the audience, 50/50, or phone a friend. I phoned. Baie, baie dankie tannie and now without any further ado
                                   
DAANTJIE

Dis grafstil in die hof. En bloedig warm op hierdie hoogsomerdag op Vanrhynsdorp. In die beskuldigdebank staan ‘n blonde jongman. Kort-kort vee hy die sweet van sy gesig af. Agter hom sit drie vroue.

Die landdros maak keelskoon. Onderkant hom skuif die staatsaanklaer en die klerk van die hof ongemaklik op hulle stoele. Die hitte is verswelgend in die bedompige vertrek.  Die jongman staar stip voor hom uit. Dan kyk die landdros op. “Die aangeklaagde word onskuldig bevind by gebrek aan voldoende bewyse en getuienis. U mag gaan, mnr. Basson. U is ‘n vry man.”

Die jongman kyk half verdwaas na agter. Die twee jonger vroue lyk bly-verras; die ouer vrou laat sak haar kop in haar hande. 

Daantjie Basson het kleintyd sommer soggens oor die draad geklim om by die plaasskooltjie te kom, want sy pa, oom Maansie Basson, se spogplaas was net langs die skool geleë. Daar het oom Maansie se lusern blougroen en geil op die lande gepryk en sy tamaties bloedrooi gepronk as jy die blare ‘n bietjie weggeskuif het. Hy het al met wingerd geëksperimenteer toe die ander boere in die vallei nog gedink het hulle heil lê alleenlik in lappieboontjies en tamaties. Skoutyd in April het sy Arabier perde op Lutzville se skougrond die mense gaande gehad, en heeljaar het sy poue op en af langs die skool se grensdraad geparadeer. Oom Maansie het van donker tot donker gewerk en die tekens van sy harde werk was daar vir almal om te sien. Daarby het ant Alie dit reggekry om in skoon heilige sandgrond blomme te kweek wat jou asem sou wegslaan. Of daar ‘n troue was, of ‘n begrafnis of sommer maar net ‘n partytjie iewers – ant Alie kon armsvol dahlias, angeliere, leeubekkies, ridderspore, wat ookal, voorsien.

Daar langs die Olifantsrivier het dit goed gegaan met oom Maansie, ant Alie en hulle drie kinders.

Daantjie was die kroonprins van daardie plaas. Die enigste seun. Lank en skraal, vlasblonde hare en oë waarin die blou van die Namakwalandse lug vasgevang was.  Hy was gevaarlik aantreklik, en die wip in sy stap en sy indringende kyk het hom anders gemaak. En o, hy kon dans … jong meisies en ou tannies het begeer om in Daantjie se arms oor die dansvloer te sweef.

Maar skool was nooit vir Daantjie nie. Hy het van kleins af teëgeskop en vasgeskop en uiteindelik niks gedoen nie. Na ‘n ietwat wankelrige pad in die plaasskooltjie, is hy na die naaste landbouskool gestuur. Dit was immers waar hy gehoort het, want die plaas het vir hom gewag. Oom Maansie sou nie vir ewig die pas kon volhou nie.

Daantjie was egter ook nie ‘n boer nie. Hy het die landbouskool gehaat. Sy aard het nie ruimte gelaat vir dinge soos boontjies en tamaties en wingerd nie. Die blote gedagte  aan werk op die lande van vroegmore tot laataand het hom siek laat voel. Maar sy weersin sou hy nie kon uitspreek nie en ‘n ander pad sou hy nie kon loop nie. Die pragtige plaas in die vallei was syne. Almal het hom beny toe hy die dag terug is op die plaas. Om te kom boer. Oom Maansie was verlig – na al die rugbreekjare kon hy dit nou uiteindelik stadiger vat. Hy het vir Daantjie ‘n woonstel aan die plaashuis laat aanbou en vir hom ‘n bakkie gekoop.

Soggens het die son al mildelik oor die lande geluier wanneer Daantjie uit sy woonstel gestrompel het.  Dan het hy hier geloop, daar geloop, in sy splinternuwe bakkie geklim, hier gaan koffie drink, daar gaan koffie drink. Saans het hy, uitgeput van die dag se geheen-en-weer dorp toe gery en daar, in die enigste kroeg, sy moegheid met ‘n knertsie gaan besweer. Later het hy voor uitvaltyd al die knertsie gaan neem, en nog later het hy die koffiedrinkery in die oggend gelos en liewers ‘n draai by die oog gaan gooi.

Oom Maansie het nog harder begin werk om kop bo water te hou, maar hy kon nie meer nie. Die wingerde het vaal begin lyk – Daantjie het gereeld vergeet om sy waterbriefie in te gee;  die waterfiskaal het dus nie vir hom ‘n waterbeurt geskeduleer nie – en die tamaties het rooispinnekop gekry, want Daantjie het versuim om te spuit. Selfs ant Alie se blomme het sienderoë agteruit gegaan en later het sy die stryd teen die sand gewonne gegee.  Desembermaande, wanneer die nuwe tamatieplantjies weerloos in die somerson gestaan het en dag vir dag vir ‘n watertjie gesmeek het, het Daantjie in sy karavaan op Strandfontein gesit. Daar het hy vir al sy vriende, wat in massas opgedaag het vir lekker kuier, vertel van sy mooi tamaties – want hy het die geheim geken:  een skeutjie bier met die plantslag, en daardie tamatieplantjie het nooit weer water nodig nie! Al die absurde stories, afgesluk met baie bier, sommer uit sy gatsak betaal, het van Daantjie ‘n gewilde kêrel gemaak.

Op die plaas het die skrif aan die muur al duideliker geword. Oom Maansie en ant Alie het oumense geword. Daantjie het in ‘n wêreld van sy eie begin beweeg. Hy het vir hom wit klere en ‘n wit hoed aangeskaf. En ‘n rewolwer. Dié het hy in sy agtersak gedra en waar hy ookal gekom het, het hy dit met groot omhaal uitgehaal en argeloos iewers op ‘n tafel uitgestal. Kort voor lank het hy agtergekom dat die mense van sy plek hom nie meer vriendelik in hulle huise ontvang nie. Hy het, vir groter effek, nog ‘n rewolwer aangeskaf en in sy ander agtersak gedra. Daantjie was nou nie meer welkom by enige van die huise waar hy vroeër so lekker gekuier het nie. Ant Mieta het die algemene gevoel in geen onduidelike terme verwoord toe sy Daantjie ‘n “verdwaalde cowboy wat nie in Namakwaland hoort nie” genoem het en hom summier weggejaag het. Net na ant Lenie, sy ou juffrou, kon hy nog vlug, want sy het hom sy rewolwers op ‘n hoë kas laat sit, hom by die kombuistafel sitgemaak met koffie en boerbeskuit, en met groot geduld en deernis na sy wilde stories – en na sy hart – geluister.

Daantjie het duidelik geweet dat hy met sy voorkoms vroue se knieë lam kon maak, en hy het hierdie gawe nie onbenut gelaat nie. Hy reageer op ‘n advertensie in die Scope en ‘n  meisie uit Israel maak haar opwagting in die vallei. Die pragtige Leah verlaat haar land om te kom kuier by die ryk, aantreklike Suid-Afrikaanse boer met sy bakkie en sy plaas en sy blou-blou oë. Daantjie en sy Leah haal die skinder-agterblad van die Rapport. Sy bly by hom in sy woonstel. Die Kerk kom dit te hore, en nou word Daantjie ook die binneruimtes van die heilige plek verbied. Leah bly nie lank nie.

Terwyl die plaas dramaties agteruit gaan, gaan Daantjie voort met sy opwindende projekte: hy duik diamante in die koue Weskuswaters, hy kuier lang, sorgelose ure op Strandfontein, hy sit in die kroeg en vertel wonderlike stories vir die verveelde kroegman.

Uiteindelik kom die dag dat oom Maansie sy spogplaas van weleer moet verkoop om te kan oorleef.  Hy is ‘n gebroke man dié dag toe die lorrie hulle goedjies op die plaas kom oplaai. Hulle koop ‘n huisie op die dorp. Daantjie gaan blymoedig saam – die kroeg is nou sommer op sy voorstoep.

Sy verlange na die plaas het oom Maansie ingespit in sy groentetuintjie op die dorp. Een mooi lente-oggend trek hy ‘n bossie wortels uit, was die grondjies af onder die buitekraan en stap na die kombuis waar ant Alie kleinkoekies vir die kerkbasaar bak. Hy dink aan sy  gesprek met sy seun die vorige aand, en die bitter woede wat dit ontketen het. Sy hart voel swaar.  Die kombuisdeur gaan oop nog voor hy daar kom. Vir ‘n oomblik sien hy ant Alie se verskrikte gesig. En dan staan Daantjie in die deur. In sy hand is sy rewolwer.

Die kerk was stampvol dié oggend toe oom Maansie begrawe is. Die dorpsmense en plaasmense, ook sy werksmense van sy plaas – almal was daar. Die droefheid in die dorpskerk en by die begraafplaas teen die bult het baie verder gestrek as net die dood van oom Maansie Basson.

Daantjie is gearresteer en het in die tronk in Vanrhynsdorp gesit. Sy verhoor is spoedig afgehandel. Die enigste ooggetuie van die moord het gesweer sy het niks gesien nie. Geen verdere woord was sy bereid om te sê nie. Daantjie was vry.

Maar teen hierdie tyd het sy leefwyse al sy eie soort vonnis uitgespreek. Daantjie was ‘n siek man. Die huis op die dorp is ook verkoop. Ant Alie het by haar oudste dogter op ‘n plaas, nie ver van hul ou plaas nie, gaan woon. Haar jongste dogter en haar man het vooruit geboer op hul plaas in die Boland. Daantjie het saam met ant Alie gegaan. Sy blou oë het dof geword, van sy lenige liggaam het net ‘n skaduwee oorgebly. Hy het nie meer sy wit klere aangetrek nie. Sy bakkie en sy karavaan is lankal verkoop. Sy rewolwers is afgevat.

Daantjie was nog nie veertig nie toe hy nie meer opgestaan het nie. Een nag is hy stil-stil weg.  

Bo teen die bult, op ‘n ysige wintersdag, is hy in die kerkhof langs oom Maansie gebêre. ‘n Koue wind van die see af het die vaal stof laat opdwarrel en  verdrietig deur die enkele kokerbome geroer. By die graf was drie vroue en enkele ander familielede. 

En ant Lenie, sy ou juffrou – die enigste een wat Daantjie se hart geken het.

Open Whatsapp chat
1
Message us OR make a Booking
Hi, Can we assist with a booking or more information?

Reply Office Hours / Kantoor Ure:
09h00 - 16h00